Ralph Waldo Emerson

Ralph Waldo Emerson in 1857

Ralph Waldo Emerson (25 Mei 1803 – 27 April 1882)[1] was 'n Amerikaanse essayis, lektor, filosoof, en digter wat die Transendentale Beweging van die middel 19de eeu gelei het. Hy is gesien as 'n voorstander van die Individualisme en ook as 'n profetiese kritikus van die kompenserende spanninge van die beskawing, en het sy gedagtes versprei deur etlike dosyne gepubliseerde essays, asook meer as 1 500 openbare lesings oor die lengte en breedte van die VSA.

Emerson het weldra wegbeweeg van die godsdienstige en maatskaplike oortuigings van sy tydgenote, en die filosofie van transendentalisme geformuleer en uitgedruk in sy 1836 essay Natuur. Op die hakke van hierdie werk het hy ook 'n toespraak getiteld Die Amerikaanse Geleerde gelewer in 1837, welke Oliver Wendell Holmes snr. as Amerika se "intellektuele Deklarasie van Onafhanklikheid" beskou het."[2]

Emerson het die meeste van sy essays as lesings geskryf en dit daarna vir publikasie hersien. Sy eerste twee versamelings van essays, Essays: First Series (1841) en Essays: Second Series (1844) verteenwoordig die kern van sy denke. Hulle sluit die alombekende essays "Self-Reliance",[3] "The Over-Soul ", "Circles ", "The Poet ", en "Experience" in. Saam met "Nature",[4] het hierdie essays die dekade wat strek van die middel 1830's tot die middel 1840's Emerson se mees produktiewe tydperk gemaak.

Emerson het oor 'n groot aantal onderwerpe geskryf, maar hy het nooit spesifieke filosofiese beginsels onderskryf nie, maar sekere idees soos Individualisme, Vryheid, die vermoë van die mens om byna enigiets en alles te realiseer, en die verhouding tussen die siel en die omliggende wêreld, ontwikkel. Emerson se aard was meer filosofies as naturalisties: "Filosofies gesien, is die heelal saamgestel uit die natuur en die siel." Emerson is een van verskeie figure wat 'n groter Panteïstiese benadering gehad het deur die idee te verwerp dat God apart van die wêreld bestaan.[5]

Hy bly uiteraard die spilpunt waarom die Amerikaanse romantiese beweging draai,[6] en sy werk het 'n beduidende invloed op die denkers, skrywers en digters na sy tyd gehad. "In al my lesings," skryf hy, "het ek een doktrine geleer, naamlik die onblusbare vermoë van die private mens."[7] Emerson is ook bekend as 'n mentor en vriend van Henry David Thoreau, wat 'n mede-transendentalis is.[8]

  1. Ralph Waldo Emerson in Encyclopædia Britannica
  2. Richardson, p. 263.
  3. Emerson, Ralph Waldo (1841). "Self-Reliance". In Charles William Eliot (red.). Essays and English Traits. Harvard Classics (in Engels). Vol. 5, met inleiding en notas. (56de druk, 1965 uitg.). New York: P.F.Collier & Son Corporation. p. 59–69. Dit is vir 'n gebrek aan 'eie-kultuur' dat die afgod van Reis, die afgod van Italië, van Engeland, van Egipte, nagejaag word deur alle opgevoede Amerikaners. Diè wat Engeland, Italië, of Griekeland in die verbeelding eerbiedwaardig gemaak het, het nie so gedoen deur rondom skeppingswerk te fladder soos 'n mot om 'n kers nie, maar deur vas te staan waar hulle is, soos die as van die Aarde...Die siel is geen reisiger nie: die wyse man bly tuis saam met die siel, en wanneer noodsaaklikhede, of sy pligte, hom op enige geleentheid uit sy huis uit roep, of na vreemde lande, is hy steeds tuis en nie 'n vreemde buite homself nie. p. 78
  4. Lewis, Jone Johnson. "Ralph Waldo Emerson - Essays". www.transcendentalists.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Februarie 2020. Besoek op 10 Augustus 2017.
  5. Lachs, John; Talisse, Robert (2007). American Philosophy: An Encyclopedia. p. 310. ISBN 0415939267.
  6. "The Emerson Dilemma". Besoek op 29 Junie 2015.
  7. Journal, 7 April 1840.
  8. "Emerson & Thoreau" (in Engels). Wisdomportal.com. 6 Junie 2000. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Oktober 2019. Besoek op 26 Oktober 2012.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search